3. Die ‘raaisel van ontkieming’
In die middel van die 1920’s was die vraag na Rooibos groter as die aantal struike in die Cederberge. Dit was tyd vir nuwe verbouings- en oestegnieke. Rooibos moes as ‘n landbougewas hanteer word.
Dr Pieter Le Fras Nortier – die plaaslike dokter and magistraat, botanis, Oxford Rhodes-beurshouer en eienaar van die plaas Klein Kliphuis, bespreek toe die moontlikheid van die verbouing van Rooibos in plantasies met die entrepreneur en Rooibos-bemarker Benjamin Ginsberg, asook die boer Olof Bergh. Die model wat hulle ondersoek het, was gebasseer op die groot plantasies swart tee wat in die middel van die 19de eeu deur die Britte in Indië aangeplant is – na aanleiding van die tradisie van die suikerrietplantasies in die Karibiese Eilande. Nortier begin toe om die saadjies van die superieure Rooibos plant, genaamd ‘Rooi’, wat in die Pakhuis- en Grootkloofberge groei, bymekaar te maak.
Die volgende stap was om aandag te skenk aan die uiters lae ontkieming van die saadjies of, soos Ginsberg dit genoem het, om ‘die raaisel van ontkieming’ op te los. Nortier, wat waarskynlik die ou Mediterreense ontkiemingstegnieke vir hardedopsaad gebruik het, het die buitenste omhulsel van die klein saadjies geskraap en hulle in saadbeddings uitgeplant. Die eksperiment was suksesvol en Nortier het uiteindelik daarin geslaag om 80 sakke tee op Klein Kliphuis te oes. Saailinge is ook op Bergh se plaas Varkenfontein en by Klein Kliphuis uitgeplant waar Nortier begin het om Rooibos in plantasies uit te plant.
Nortier, wat as die ‘vader van die Rooibos-bedryf’ beskou word, het ‘n eredoktorsgraad van sy alma mater, Victoria College (vandag die Universiteit Stellenbosch) vir sy navorsing oor tee en ander landbouvraagstukke ontvang.
Vandag word ‘n gemiddeld van 16 000 metrieke ton Rooibos per jaar in Suid-Afrika verbou. Sowat 50% daarvan word na 60 lande oor die hele wêreld uitgevoer. En dit het alles by die beskeie klein Rooibos saadjie begin.